user preferences

New Events

Southern Africa

no event posted in the last week

Abahlali baseMjondolo Verklaring oor die Xenofobiese Aanvalle in Johannesburg

category southern africa | migration / racism | non-anarchist press author Friday June 06, 2008 22:11author by Abahlali baseMjondolo Report this post to the editors

Unyawo Alunampumulo

Ons stryd, en elke ware stryd, is om te sorg dat die mens, die persoon, sentraal binne enige gemeenskap staan, en ons begin by diegene wat die meeste benadeel is.


Woensdag, 21 Mei 2008
Abahlali baseMjondolo Persverklaring

Unyawo Alunampumulo

Abahlali baseMjondolo Verklaring oor die Xenofobiese Aanvalle in Johannesburg


Alle mense het dieselfde oorsprong. Daar is net een menslike ras.

Ons stryd, en elke ware stryd, is om te sorg dat die mens, die persoon, sentraal binne enige gemeenskap staan, en ons begin by diegene wat die meeste benadeel is.

'n Daad kan onwettig wees. 'n Mens kan nooit onwettig wees nie. 'n Mens bly 'n mens waar hy of sy ookal is.

Indien jy in 'n gevestigde gemeenskap woon behoort jy aan daardie gemeenskap: binne daardie gemeenskap is jy 'n buurpersoon, 'n medemens en 'n vriend.

Ons veroordeel die aanvalle, die afranselings, verkragtings en moorde in Johannesburg op mense wat in ander lande gebore is. Ons sal orals stry om seker te maak dat soiets nie hier by ons in KwaZulu-Natal gebeur nie.

Vir baie jare waarsku ons al dat die woede van die armes baie vorme kan aanneem. Ons waarskuwings, nes ons waarskuwings oor rotte, brande en die gebrek aan toilette, oor die menslike ashope wat hervestigingsterreine genoem word, oor die nuwe konsentrasiekampe wat deurgangskampe genoem word en oor die korrupte, wrede, geweldadige en rassistiese polisie, is nog altyd verontagsaam.

Laat ons dit duidelik stel. Armoede of onderdrukking regverdig nie dat 'n arm persoon hom teen 'n ander arm persoon draai nie. Enige arm man wat teen sy vrou draai of enige arm gesin wat teen hulle bure draai moet bestry, gekeer en voor die gereg gebring word. Hierdie dinge gebeur egter in Alex en nie in Sandton nie, omdat die lewens van mense in Alex al hoe moeiliker en duurder word en hulle vir hulle lewe en hul toekoms vrees. Hulle leef onder die soort druk wat mense skade aandoen. Diegene wat teen hulle bure draai moet verantwoordlik gehou word, maar diegene wat veroorsaak dat armes op piepklein lappies grond moet woon, dat armes met uitsetting en gedwonge verskuiwings bedreig word, dat armes soos misdadigers behandel word, diegene wat die armes uitbuit, en diegene wat probeer keer dat die armes vir 'n beter lewe veg, asook diegene wat voedselpryse opjaag en te min huise bou, wat sorg dat die huisies vir die armes hopeloos te klein en te vêr van hul werkplekke is, en hulle dan nog op 'n korrupte manier verkoop, moet ook verantwoordelik gehou word.

Daar is andere waarhede wat ons ook onder oë moet sien.

Dit moet duidelik gestel word dat die Department van Binnelandse Sake vlugtelinge of migrante nie as mense behandel nie. Ons lede wat in ander lande gebore is, vertel afgryslike verhale oor eindelose lang rye wat tot nog meer langer rye lei en dan uitloop tot minagting, wreedheid en korrupsie. Hulle vertel van polisielede wat omkoopgeld eis, wat hul dokumente opskeur, hulle geld steel en hulle na Lindela – 'n plek erger as 'n deurgangskamp en totaal ongeskik vir menslike verblyf – stuur. 'n Mens kan selfs na Lindela gestuur word as jy in Suid-Afrika gebore is as die polisie dink dat jy ‘te swart’ lyk, of as jy uit Giyani kom en nie die weet wat die isiZuluwoord vir elmboog is nie.

Ons moet duidelik verstaan dat elke hervestigingproses mense wat nie ID-boekies het nie, dakloos laat. Dit gebeur met party mense wat in Suid-Afrika gebore is, maar veral met diegene wat in ander lande gebore is.

Ons moet dit duidelik stel dat baie politici, die polisie en die media voor die voet oor ‘onwettige immigrante’ praat asof hulle misdadigers is. Hierdie houding veroorsaak baie skade en geweldig baie pyn. Elke vreemdeling word as moontlike misdadiger gesien al is dit juis ons as vreemdelinge wat die meeste onder misdaad ly omdat ons geen hekke of wagte het om ons woonplekke te beskerm nie.

Ons moet duidelikheid kry oor die rol van die Suid-Afrikaanse regering en Suid-Afrikaanse maatskappye in ander lande. Ons moet duidelikheid kry oor NEPAD. Ons weet wat Anglo-American in die Kongo doen en wat ons regering in Zimbabwe doen. Ook hulle moet tot verantwoording geroep word.

Ons weet almal dat Suid-Afrikaners in Zimbabwe en Zambië en tot sovêr as in Engeland verwelkom is toe hulle die onderdrukking van Apartheid ontvlug het. In ons eie beweging is daar persone wat destyds in ballingskap was. Daarom behoort ons diegene wat nou uit onderdrukking elders ontsnap, verwelkom. Hierdie verpligting is soveel groter aangesien ons regering en groot maatskappye die onderdrukking in ander lande steun.

Daar word gesê dat mense wat in ander lande gebore is mandrax verkoop. Bestry mandrax en sy verkopers maar moenie jouself mislei deur te sê dat mense wat in Suid-Afrika gebore is nie ook mandrax verkoop, of dat die polisie nie omkoopgeld by mandraxverkopers vat nie. Veg vir 'n polisiediens wat die mense dien. Moenie van jou bure wat swaarkry vyande maak nie.

Daar word gesê dat mense uit ander lande amagundane (rotte, d.i. stakingsbrekers) is. Bestry stakingsbrekers maar moenie jouself mislei deur te sê dat mense wat in Suid-Afrika gebore is nie ook amangudane is nie. Daar word gesê dat mense uit nader lande bereid is om vir baie min geld te werk en dus almal se lone verlaag. Ons weet egter dat mense desperaat is en oorals om oorlewing stry. Stry vir sterk vakbonde wat alle sektore, selfs die informele werk, dek. Moenie van jou bure wat swaarkry jou vyande maak nie.

Daar word gesê dat mense uit ander lande nie opstaan om te stry nie maar altyd van die polisie af weghardloop. Bestry lafhartigheid maar moenie jouself mislei deur te sê dat Suid-Afrikaners nie ook lafaards is nie. Moenie jouself mislei en voorgee dat dit anders is vir diegene wat hier gebore is of nie hier gebore is nie om jou teen korrupte, geweldadige en rassistiese polisielede te verset. Stry vir ID-boeke vir jou bure sodat ons almal saam kan staan vir die regte van die armes. Moenie van jou bure wat ook swaarkry jou vyande maak nie.

Daar word gesê dat mense uit ander lande huise deur korrupsie verkry. Bestry korrupsie maar moenie jouself mislei deur te sê dat Suid-Afrikaners nie ook huise van raadslede en amptenare in die behuisingsdepartement koop nie. Bestry korrupsie. Moenie van jou bure wat ook swaarkry jou vyande maak nie.

Daar word gesê dat mernse uit ander lande meer sukses in romantiese verhoudings behaal omdat hulle nie geld na hulle plattelandse tuistes hoef te stuur nie. Bestry die armoede wat so sterk is dat dit selfs die liefde vernietig. Probeer 'n lewe sonder die voortdurende stryd om geld te lei deur te veg vir 'n leefbare inkomste vir almal. Moenie van jou bure wat ook swaarkry jou vyande maak nie.

Daar word gesê dat daar te veel straatverkopers is en dat dié wat van buite af kom weg moet gaan. Ons moet onsself egter afvra waarom slegs so 'n klein aantal maatskappye so baie winkels kan besit, waarom die polisie straatverkopers lastig val en van hulle steel, en waarom straatverkopers uit die stede verdryf word. Die arm man wat hare sny en die arm vrou wat vrugte verkoop is nie ons vyande nie. Moenie van jou bure wat ook swaarkry jou vyande maak nie.

Ons weet almal dat as dit nie stopgesit word nie, die oorlog teen die Mosambiekers tot 'n oorlog teen al die amaShangaan sal uitgroei. 'n Oorlog teen die Zimbabwïers sal 'n oorlog teen die amaShona word wat dan 'n oorlog teen die amaVenda sal word. Dan sal mense begin vra waarom die amaXhosa in Durban is, waarom Chinese en Pakistanis hier is. As dit nie stopgesit word nie, wat sal word van 'n plek soos Clare Estate waar mense soos die amaXhosa, die amaMpondo, die amaZulu en die abeSuthu; waar Indiër en Afrikaan; Moslem, Hindoe en Christen; die wat in Suid-Afrika, Mosambiek, Zimbabwe, Malawi, Pakistan, Namibië, die Kongo en Indië gebore is, woon?

Gister het ons gehoor dat hierdie ding in Warwick en die Stadssentrum begin het. Ons het gehoor van handelaars wie se goedere gesteel is en daar na mense se velkleur gekyk is, 'n man van Ntuzuma is gestop en aangerand omdat hy ‘te swart’ was. Spanning loop hoog in die Stadsentrum. Gisteraand het mense in die strate van Umbilo rongehardloop op soek ne ‘amakwerekwere’. Mens in hoë woonstelblokke het vir hulle geskree ‘Daar is Kongolese hier, kom boontoe!” Hierdie ding het in Durban begin. Ons weet nie wat vanaand sal gebeur nie.

Ons sal alles doen om te verseker dat hierdie ding nie verder gaan nie en dat dit nie die vestigingsgebiede bereik nie. Ons het reeds op die volgende stappe besluit:

1. Ons sal ons verhoudings met straathandelaarsverenigings laat herleef en hulle ontmoet om die saak met hulle te bespreek en dag vir dag kontak met hulle behou.
2. Ons het kontak gemaak met vlugtelingorganisasies en sal daagliks met hulle in kontak bly. Ons sal hulle na al ons vergaderings en funksies nooi. 3. Ons het kontak gemaak met senior polisiebeamptes wat ons kan vertrou, wat nie korrup is nie en wat die mense wil help. Hulle het ons hulle selfonnnommers gegee en belowe om met ons saam te werk sodra hierdie ding in Durban gebeur. Ons vra al ons mense om op die uitkyk te wees vir hierdie ding en as dit gebeur sal ons onmiddelik die polisielede wat ons kan vertrou kontak. Hulle het belowe om onmiddelik te kom.
4. Ons sal hierdie bedreiging op die agenda van al ons vergaderings en funksies plaas.
5. Ons sal dit by elke tak en elke vestiging van ons beweging bespreek.
6. Ons sal dit met ons verwante bewegings soos die Weskaapse Anti-Eviction Compaign en die Landless People’s Movement bespreek sodat ons 'n nasionale strategie kan ontwikkel. 7. Oor die volgende aantal dae sal ons lede na die NoordKaap, die Noordwes, Johannesburg en Kaapstad reis om plakkershutbewoners te ontmoet wat teen gedwonge uitsetting, korrupsie en gebrek aan dienste stry. By elk van hierdie vergaderings sal ons die saak bespreek.
8. Ons sal alle radiostasies vra om plek in te ruim vir ons en ander om die saak te bespreek. 9. In die verlede het ons nie ons lede wat in ander lande gebore is na vore gebring nie omdat ons bang was dat die polisie hulle Lindela toe sou stuur. Van nou af sal ons ons lede wat in ander lande gebore is na vore bring, maar nie onder hulle volledige name nie omdat ons nog steeds nie alle polisielede kan vertrou nie.
10. Indien nodig sal ons al ons lede vra om hulle kamerade uit ander lande te verdedig en te huisves.

Ons hoor hoe dat politieke analiste ons vertel hoe dat die armes oor vreemdelingehaat (xenofobie) opgevoed moet word. Die oplossing is altyd ‘voed die armes’ op. As ons cholera kry moet ons opgevoed word oor die was van hande terwyl ons juis skoon water nodig het. As ons verbrand dan moet ons oor vuurmaak opgevoed word, al het ons eintlik elektrisiteit nodig. Dit is alles bloot 'n manier om die armes self te blameer vir hulle probleme en swaarkry. Ons soek grond en huise in stede, ons wil universiteit toe gaan, ons soek skoon water en elektrisiteit – ons wil nie dat die rykes ons ‘opvoed’ oor hoe ons in armoede kan oorleef nie. Dit gaan nie daarom dat die armes opgevoed moet word oor vreemdelingehaat nie. Dit gaan daaroor om aan die armes die vermoë te verskaf om dit vir hulle moontlik te maak om te oorleef en daarom ook gasvry en vrygewig teenoor ander te wees. Vreemdelingehaat (xenofobie) moet op alle vlakke van die samelewing stopgesit word. As dit nodig is, arresteer dan die arm persoon wat 'n moordenaar geword het. Maar arresteer dan ook die korrupte polisieman en die korrupte amptenare in Binnelandse Sake. Sluit Lindela en vra om verskoning vir die lyding wat dit veroorsaak het. Verskaf dokumente aan al die mense wat in die polisiestasies in Johannesburg skuil.

Daar moet ernstig nagedink word oor waarom geld en ryk mense vryelik wêreldwyd kan rondbeweeg terwyl die armes orals met lemmetjiesdraad, korrupte en geweldadige polisielede, lang toue en hervestigings en deportasies gekonfronteer word. In Suid-Afrika word sommige van ons uit die stede verskuif na plattelandse menslike stortingstereine wat hervestigingingsplekke genoem word, of ons word landuit gesit. Party van ons word na deurgangskampe geneem en ander na Lindela. Die bestemming verskil dalk maar die onderdrukking is dieselfde. Laat diegene wat ons wil opvoed hulleself oor hierdie sake opvoed.

Ons wil, in alle nederigheid, voorstel dat die mense in Johannesburg verder gaan as om bloot hierdie aanvalle te veroordeel. In alle nederigheid stel ons dit dat noudat ons in hierdie geweldige krisis is, ons 'n lewendige, aktiewe solidariteit benodig. Dit is tyd dat elke gemeenskap en familie onderdak verskaf aan die vlugtelinge van hierdie geweld. Hulle kan nie by polisiestasies, waar hulle die risiko van deportasie loop, gelaat word nie. Dit is tyd dat die kerkleiers, die politieke leiers en die vakbondleiers saamkom en saamwoon met hul medemense, die kamerade wat in ander lande gebore is, totdat die gevaar verby is. Hier in Durban staan die kamerade van elders altyd by ons as die Land Invasions Eenheid kom om ons uit te sit, of as die polisie kom om ons te slaan. Selfs die geestelikes word geslaan. Nou moet ons saamstaan met hierdie kamerade as hulle bure kom om hulle aan te val. As dit hier in die vestigingingsgebiede in Durban gebeur, is dít wat ons moet en sal doen.

Ons eis verder die volgende optredes van die regering van Suid-Afrika:

1. Sluit Lindela vandag nog. Laat die mense vry.
2. Kondig vandag nog aan dat daar dokumente sal wees vir elke persoon wat in julle polisiestasies skuil.
3. Verbied die verkope van grond in stede tot alle mense van huise voorsien is.
4. Sit onmiddelik alle uitsettings en gedwonge verskuiwings stop.
5. Moet geen enkele golflandgoed meer bou totdat almal 'n huis het nie.
6. Steun die mense van Zimbabwe, nie 'n onderdrukkende regering wat die huise van die armes vernietig en verkragting en mishandeling gebruik om die opposisie te beheer nie.
7. Arresteer alle korrupte persone wat vir die polisie en by Binnelandse Sake werk.
8. Kondig, vandag nog, 'n spitsberaad aan tussen alle vlugtelingorganisasies en die polisie en Binnelandse Sake om te beplan hoe hulle radikaal verander kan word om alle mense wat in Suid-Afrika woon te dien.

Vir verdere inligting en kommentaar, kontak asseblief:

S’bu Zikode: 0835470474
Zodwa Nsibande: 0828302707
Mnikelo Ndabankulu: 0797450653
Mashumi Figlan: 0795843995
Senzo (surname not given, he has no papers): 031 2691822

Related Link: http://www.abahlali.org
This page can be viewed in
English Italiano Deutsch
© 2005-2024 Anarkismo.net. Unless otherwise stated by the author, all content is free for non-commercial reuse, reprint, and rebroadcast, on the net and elsewhere. Opinions are those of the contributors and are not necessarily endorsed by Anarkismo.net. [ Disclaimer | Privacy ]